Skip to Content

Psalms Hoofstuk 112

1 Halleluja! Alef. Welgeluksalig is die man wat die HERE vrees, Bet. wat 'n groot welbehae in sy gebooie het. 2 Gimel. Sy nageslag sal geweldig wees op die aarde; Dalet. die geslag van die opregtes sal geseën word. 3 He. Oorvloed en rykdom is in sy huis; Wau. en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid. 4 Sajin. Vir die opregtes gaan Hy op as 'n lig in die duisternis: Get. genadig en barmhartig en regverdig. 5 Tet. Gelukkig die man wat hom ontferm en uitleen, Jod. wat sy sake volgens reg besorg. 6 Kaf. Want hy sal nooit wankel nie; Lamed. die regverdige sal in ewige gedagtenis wees. 7 Mem. Hy vrees nie vir slegte tyding nie; Noen. sy hart is gerus, vol vertroue op die HERE. 8 Samek. Vas is sy hart, hy vrees nie. Ajin. totdat hy op sy teëstanders neersien. 9 Pe. Hy strooi uit, hy gee aan die behoeftiges; Sade. sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid; Kof. sy horing word verhoog in eer. 10 Resj. Die goddelose sien dit en is vererg; Sjin. hy kners met sy tande en smelt weg; Tau. die begeerte van die goddelose mense vergaan.