Skip to Content

Psalms Hoofstuk 96

1 Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied; sing voor die HERE, o ganse aarde! 2 Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag. 3 Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders. 4 Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode. 5 Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak. 6 Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en sieraad in sy heiligdom. 7 Gee aan die HERE, o geslagte van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte. 8 Gee aan die HERE die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe. 9 Aanbid die HERE in heilige gewaad; beef voor sy aangesig, o ganse aarde! 10 Sê onder die volke: Die HERE is Koning! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Hy sal die volke regverdig oordeel. 11 Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en sy volheid bruis. 12 Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel 13 voor die aangesig van die HERE; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou.