Skip to Content

Psalms Hoofstuk 30

1 'n Psalm, 'n lied by die inwyding van die Huis. Van Dawid. 2 Ek sal U verhoog, HERE, want U het my opgetrek en my vyande oor my nie laat bly wees nie. 3 HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak. 4 HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal. 5 Psalmsing tot eer van die HERE, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam; 6 want 'n oomblik is daar in sy toorn, 'n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig. 7 Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie. 8 HERE, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg- ek het verskrik geword! 9 Ek het U aangeroep, HERE, en ek het die HERE gesmeek: 10 Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit u trou verkondig? 11 Hoor, HERE, en wees my genadig! HERE, wees my 'n helper! 12 U het my weeklag vir my verander in 'n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord; 13 sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. HERE, my God, vir ewig sal ek U loof.