Skip to Content

Psalms Hoofstuk 122

1 'n Bedevaartslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan! 2 Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! 3 Jerusalem wat gebou is soos 'n stad wat goed saamgevoeg is, 4 waarheen die stamme optrek, die stamme van die HERE- 'n voorskrif vir Israel! - om die Naam van die HERE te loof. 5 Want daar staan die stoele vir die gereg, die stoele van die huis van Dawid. 6 Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe! 7 Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise! 8 Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede in jou! 9 Ter wille van die huis van die HERE onse God wil ek die goeie vir jou soek.