En aan die buitenste symuur, noord van wie na die ingang van die poort opgaan, was twee tafels; en aan die ander symuur wat by die voorportaal van die poort was, twee tafels:
vier tafels aan die een en vier tafels aan die ander kant, by die symuur van die poort: agt tafels waar hulle op geslag het.
En buitekant die binneste poort was twee kamers in die binneste voorhof, een aan die symuur van die noordpoort, met die voorkant na die suide toe; een was aan die symuur van die suidpoort, met die voorkant na die noorde toe.
Daarop het hy my gebring deur die ingang wat by die symuur van die poort was, na die heilige kamers vir die priesters wat na die noorde kyk; en kyk, daar was 'n plek aan die agterkant, na die weste toe.