Skip to Content

Psalms Hoofstuk 143

1 'n Psalm van Dawid. o HERE, hoor my gebed; luister tog na my smekinge; verhoor my in u trou, in u geregtigheid. 2 En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie. 3 Want die vyand vervolg my siel; hy vertrap my lewe teen die grond; hy laat my woon in duisternisse soos hulle wat lankal dood is. 4 En my gees versmag in my, my hart verstyf in my binneste. 5 Ek dink aan die dae uit die voortyd; ek peins oor al u dade; ek dink ná oor die werk van u hande. 6 Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos 'n uitgedorde land. Sela. 7 Verhoor my tog gou, HERE: my gees beswyk! Verberg u aangesig nie vir my nie, sodat ek nie word soos hulle wat in die kuil neerdaal nie. 8 Laat my u goedertierenheid in die môre hoor, want op U vertrou ek; maak my bekend die pad wat ek moet gaan, want ek hef my siel op tot U. 9 Red my van my vyande, HERE! By U skuil ek. 10 Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in 'n gelyk land. 11 o HERE, maak my lewend om u Naam ontwil; lei my siel uit die benoudheid, in u geregtigheid. 12 En vernietig my vyande in u goedertierenheid, en bring hulle almal om wat my as vyand behandel; want ek is u kneg.